Beplan jou huwelik!

Die huwelik tussen ’n man en vrou is die grondslag van alle gemeenskappe.

beplan-huwelik

Ek het nou onlangs die boek van Gary Chapman, 12 Dinge wat jy moet weet voor jy trou, in die hande gekry en begin lees. Wat ’n oulike, insiggewende en interessante boek. Ek kan vanuit ons bediening by Lewensverryking so identifiseer met alles wat hy sê. Dit maak nie saak of jy getroud is, verloof of net nog besig is om die verhouding te verken – ek weet dat dit wat ek met jou gaan deel, vir julle baie kosbaar gaan wees.

Vriende, dit maak nie saak in watter gemeenskap jy in die wêreld bly nie. Een ding staan soos ’n paal bo die water uit. Die huwelik tussen ’n man en vrou is die grondslag van alle gemeenskappe. En soos die huweliksformulier wat ek gebruik sê, is dat ’n gesonde huwelik is die hoeksteen vir ’n stabiele samelewing en die grondslag vir ’n gesonde gesinslewe.

Die realiteit is dat wanneer kinders volwassenes word, die meeste van hulle sal trou. Dit kan ’n huwelik uit eie keuse wees waar romantiese liefde ’n groot rol speel, of dit kan ’n gereelde huwelik wees waar geen sprake van romantiese liefde is nie. In ons land trou daar seker jaarliks meer as ’n miljoen mense.

Dit maak nie saak van die taal of kultuur nie, maar die vrae word aanhoudend deur ’n Landdros of ’n Leraar gevra: “Neem jy haar as jou wettige vrou?” of “Neem jy hom as jou wettige man?” ’n Leraar sal die paartjie ook nog hard aan mekaar laat beloof: “Voor God en sy gemeente, beloof ek liefde en trou, vir altyd en in alle omstandighede, aan my bruid/bruidegom.” Byna al hierdie paartjies verwag dat hulle “lank en gelukkig saam sal leef”.

Ek het nog niemand gekry wat wil trou om ongelukkig te wees nie. Niemand trou met die opset om hulle maat ongelukkig te maak nie. Ek het nog geen paartjie ontmoet wat wil trou met die opsie om eendag te skei nie. Maar ek glo elkeen van ons ken verhale van mense wat van die teendeel spreek. Dit kan dalk jou eie verhaal wees. Ons weet almal dat die egskeidingsyfer in ons land skrikwekkend hoog is en dat die hoogste persentasie egskeidings in die Westerse samelewing, in die eerste 7 jaar van die huwelik plaasvind. Die rede daarvoor, is dat elke huwelik deur ’n romantiese verlies fase gaan. Jy het dus ’n probleem as jy jou huwelik net op romantiese verliefdheid gebou het.

Maar hoekom is daar dan so baie egskeidings. Ek het ’n bepaalde teorie daaroor en Gary Chapman bevestig dit. Daar kan natuurlik baie faktore wees wat kan aanleiding gee tot ’n egskeiding, maar baie egskeidings is die resultaat van ’n gebrek aan voorbereiding vir die huwelik. Daar is regtig ’n gebrek aan kennis in ons samelewing as dit kom by die huwelik. Mense raak romanties verlief en trou sonder om tyd en aandag in te sit om as spanmaats saam te werk in ’n intieme verhouding nie.

Ironies genoeg erken ons die behoefte aan opvoeding in al die ander areas van die lewe, maar ongelukkig nie wanneer dit kom by seker die heel belangrikste ding in die samelewing, die huwelik, nie. Die meeste mense bring baie meer tyd deur om vir hulle beroep voor te berei as vir die huwelik. Daarom behoort dit nie ’n verrassing te wees nie dat mense meer suksesvol is in hul beroep as in hul huwelik. Baie paartjies word eenvoudig nie voorberei op al die eise en uitdagings van die huwelik nie. Hoe lyk dit in jou geval – jy wat al getroud is of wat van voorneme is om te trou?

Die feit van die saak is, dat die besluit om te trou; die besluit om met daardie spesifieke persoon te trou, sal ’n baie groter impak op jou lewe hê as die meeste ander besluite in jou lewe. Tog gaan mense voort om halsoorkop, sonder enige deeglike voorbereiding, die huwelik binne te storm. Om die waarheid te sê, baie paartjies skenk baie meer aandag aan die beplanning van die troudag as om vir ’n suksesvolle, vervullende huwelik te beplan. Die ironie is dat die feesviering tydens die troudag ’n paar ure aan die gang is, terwyl die huwelik vir ’n leeftyd gaan aanhou.

Ek is oortuig daarvan dat baie seer en moeilikheid vermy kan word as paartjies tyd in beslag neem vir deeglike voorbereiding op die huwelik. Om daardie liefdevolle, ondersteunende huwelik te hê wat jy in jou geestesoog gesien het, is werklik in ons almal se bereik. Maar ek kan jou verseker dat daardie tipe huwelik nie sommer net vanself gaan gebeur omdat julle gaan trou of reeds getroud is nie. Kry daardie idee sommer dadelik uit jou kop. Julle moet saam tyd in beslag neem om die beproefde riglyne vir die huwelik te ontdek en toe te pas sodat so ’n huwelik vir julle moontlik sal wees. En glo my, dit is moontlik.

As julle van voorneme is om te trou, wil ek julle aanmoedig om te gaan vir ’n goeie huweliksvoorbereiding geleentheid. Vir die wat getroud is, wil ek uitdaag en aanmoedig om vir ’n baie goeie huweliksdiens te gaan. Jy weet mos. Ons moet gereeld die motor waarmee ons ry diens. Gaan gee bietjie jou huwelik na ’n paar jaar ’n goeie diens.

Geskryf deur Ds. Deon van der Berg

KLIEK HIER vir meer inligting oor ons Huweliksvoorbereiding Seminare

Volg ons gerus