Elke gesinslid se seer

’n Egskeiding vind nie bloot net tussen man en vrou plaas nie, dit beïnvloed veral ook die kinders.

elke-gesinlid-se-seer

Wanneer jy ’n buitestaander is, is dit soms maklik om van egskeiding te praat, totdat dit jóú tref . . . ’n Egskeiding vind nie bloot net tussen man en vrou plaas nie, dit beïnvloed veral ook die kinders. As julle moet baklei, baklei dan vir jul huwelik, want die skade van egskeiding is groot op élke lid van die gesin en elkeen verwerk dit anders.

Hoe hanteer die kinders dit?

“Ek en my broer het ontsettende woede gehad teenoor ons ouers ná hul egskeiding. Ons was veral vir my pa kwaad en het hom dikwels sleggesê in ’n poging om onsself beter te laat voel. Ons het iemand gesoek om te haat,” vertel Jana Oosthuizen.*

Elizma van der Smit, ’n kliniese sielkundige van Klerksdorp, sê dat elke persoon se omstandighede uniek is en hoewel dit moontlik is om positief anderkant uit te kom, is dit nodig om te weet wat die negatiewe impak van egskeidings kan wees om so voorbereid as moontlik te wees.

“Egskeiding is meestal baie traumaties vir ’n kind – vir hom is dit ’n verlies van sy familie en lewe soos hy/sy dit geken het. Kinders voel meestal hartseer, kwaad, bang en sukkel om te verstaan hoe hul lewens gaan verander. Die kind se ouderdom tydens die egskeiding bepaal ook hoe hy/sy sal reageer op grond van wat hulle verstaan,” verduidelik Elizma.

“Babas kan die spanning aanvoel, maar nie verstaan wat dit veroorsaak nie. Indien die spanning aanhou, kan babas geïrriteerd en klouerig word, veral rondom nuwe mense. Hulle kan gereelde emosionele uitbarstings beleef en kan agteruitgaan en tekens van ontwikkelingsagterstande toon.
“Voorskoolse kinders verstaan nie die konsep van egskeiding nie, maak nie saak hoeveel spanning daar in die huis is nie. Tydens hierdie ouderdom hou kinders daarvan om beheer uit te oefen en kan hulle bitter magteloos voel omdat hulle geen beheer oor die uitkoms van die saak het nie.

“Net soos kleuters, voel die voorskoolse kind dat hy verantwoordelik is vir die egskeiding. Hulle kan bitter onseker voel oor die toekoms, kan hul woede binne hou of uitdruk, hulle kan onaangename gevoelens en idees ervaar en kan ook dikwels nagmerries ervaar,” verduidelik Elizma.

Melanie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Pretoria-Noord, beklemtoon ook dat die impak van egskeiding van gesin tot gesin verskil. “Wanneer een ouer byvoorbeeld die huis verlaat tydens ’n egskeiding, is daar meestal ’n mate van verlies omdat die kind(ers) dalk minder direkte kontak met daardie ouer sal hê.

“Soms kan dit ook wees dat al die gesinslede verhuis tydens ’n egskeiding. Hier kan dus ’n verlies ontstaan van ’n bekende omgewing, skool, werk en vriende. Vir al die betrokke partye is daar dus meestal ’n mate van verlies en aanpassing. In sommige gevalle kan kinders sekere tekens toon wat mag aandui dat hulle die egskeiding moeilik verwerk en sukkel om aan te pas.

“Kinders kan soms stiller raak, meer teruggetrokke voorkom en hulself isoleer. Ander kinders is dalk meer emosioneel en kom huilerig, angstig of aggressief (insluitende uitbarstings) voor. In uiterste gevalle kan ouer kinders en tieners verkeerde keuses maak en na dwelms, alkohol of verkeerde vriende draai. Tekens van depressie kan ook ontstaan indien die situasie nie bemiddel word nie,” sê Melanie.

“Vir volwasse kinders kan ’n egskeiding meestal geweldig ontnugterend en ontstellend wees. Die egskeiding kan baie vrae by die volwasse kinders ontlok rondom hul eie kinderjare, identiteit en beeld van hul ouers as individue en as ’n paartjie,” sê Melanie.

Ma voel soos ’n mislukking

“Ná my egskeiding het ek soos ’n totale mislukking gevoel oor hoofsaaklik twee redes. Eerstens het ek gevoel asof ek nie goed genoeg was nie, asof ek verdien het om só behandel te word. Tweedens was ek kwaad vir myself, want ek het soos ’n swaap gevoel omdat ek oop oë in die huwelik ingeloop het en géén teken kon sien dat hierdie man nie goed vir my sou wees nie,” vertel Lisa Louw.*

Elizma sê dat geskeide ma’s in baie gevalle erge finansiële stres ervaar aangesien hulle dan sonder hul man se salaris vir alles moet sorg. Soos in Lisa se geval, kom daar by vroue ook dikwels woede voor teenoor hul eksman, sowel as teenoor hulself aangesien hulle nie harder aan die huwelik gewerk het nie of nie vroegtydig die tekens gesien het nie.

“Aangesien Mamma nou baie meer verantwoordelikhede het, kan dit veroorsaak dat sy baie meer stres ervaar en minder tyd saam met haar kinders spandeer. Geskeide ma’s kan ook ’n verlies van status ervaar, sowel as ’n verlies van vriende en familielede. Daar word steeds ook soms neergesien op geskeide vroue in die gemeenskap en dit is moeilik om sosiaal ingeskakel te bly.”

Pa se eensaamheid

“Ek het uitmekaar geval nadat ek op ’n baie jong ouderdom geskei is. Die ergste was dat almal maar net aangegaan het met hul lewens asof ek maar net vanself oukei moes wees. Dit is asof my familie en vriende nie geweet het hoe om ’n man wat in stukke is te troos nie,” verduidelik Ben du Plessis.*

Elizma bevestig dat daar in navorsing gevind is dat mans dikwels deur familie en vriende verstoot word, wat ’n geweldige gevoel van eensaamheid veroorsaak. Pa’s sukkel dikwels met ’n gebrek aan ondersteuning omdat die fokus tydens egskeiding selde op die man val.

“Baie vaders beleef ’n geweldige verlies en beleef ’n groter vrees om hul kinders te verloor, in vergelyking met moeders. Mans ervaar meer dikwels ’n gevoel van minderwaardigheid ná ’n egskeiding, aangesien dit sy beeld as voorsiener vir die gesin benadeel.”

Melanie stel voor dat ouers tydens ’n egskeiding moet oorweeg om ’n ouerskapplan op te stel by ’n geregistreerde mediator (meestal ’n maatskaplike werker of sielkundige). Só ’n ouerskapplan kan onnodige konflik en kommunikasieprobleme uit die weg ruim omdat elke ouer duidelikheid sal verkry omtrent sy of haar rol en verantwoordelikhede.

Die ouerskapplan kan ook by die kinderhof ingehandig en geregistreer word om sodoende aanspreeklikheid by elke ouer aan te moedig. Indien nodig, kan individuele terapie vir die ouers en kinders verkry word. Ouerleiding deur ’n terapeut kan voordelig wees vir die ouer-kind-verhouding. Kommunikasie, konflikhantering en algemene hantering van dag-tot-dag uitdagings kan sodoende ook verbeter word.

Melanie se raad aan ouers:

• Berei saam die kind(ers) voor in terme van die veranderinge wat plaasvind en kies om neutrale antwoorde aan die kind te verskaf omtrent die egskeiding.
• Moedig die kind se verhouding met die ander ouer aan.
• Skep ’n positiewe atmosfeer wanneer daar direkte of telefoniese kontak tussen die ouers plaasvind in die teenwoordigheid van die kind(ers).
• Neem mekaar in ag.
• Wees respekvol en bedagsaam teenoor die ander ouer.
• Plaas die kind se belange werklik eerste. Moet dus nie toelaat dat jou eie emosies teenoor die ander ouer jou keuses en optrede negatief beïnvloed nie.

Om ’n pot wat gebreek het weer aanmekaar te plak, is ’n baie moeilike en soms selfs onmoontlike taak. Omstandighede verskil, maar doen jul bes om betyds aan jul huwelik te werk. Moenie wag totdat dit te laat is nie. Doen dit ter wille van élke lid van die gesin.

*Skuilname is gebruik.

Artikel deur Lize Groenewald vir INTIEM Tydskrif
(Oorspronklike artikel op www.intiem.co.za)

Bespreek nou vir ‘n Huweliksverryking naweek om jou huwelik sterker te maak! KLIEK HIER

Volg ons gerus