God het my genees van kanker!

Lees Leana se getuienis oor hoe God haar van kanker genees het.

kanker-genees

Hier volg ‘n verkorte weergawe van Leana van Meyeren se wonderlike getuienis van hoe sy op ‘n Lewensverryking Enkelseminaar kon leer hoe om te vergewe en hoe God haar daarna genees het van kolonkanker. Lees dit gerus en deel dit met jou vriende!

Op 23 Junie 2014 is ek gediagnoseer met kolonkanker. My buik was altyd geswel en ongelooflik seer. Ek het alewig gelyk of ek in kraam is. Soveel mense het my al gevra hoe ver swanger ek, dit was vir my erg omrede ek nie meer kan kinders kry nie en sou graag ‘n dogtertjie wou hê.  Ek het op daardie staduim by Discovery aangesluit en moes op 4 Desember 2014 gegaan het vir ‘n groot operasie om die helfte van my derm te verwyder en reg te maak en hopelik al die kanker uit te sny. Ek was reeds in my kamer op die derde vloer en net voordat hul my teater toe moes stoot, kom die hoof bestuurder na my toe sê my medies wyer om die operasie te betaal. Ek moes dadelik R38000 neersit om voort te gaan met die operasie. Ek het net daar in dieselfde kamer vir Louhanie ontmoet. Sy kon sien ek het baie pyn gehad en het so gehuil want ek wou net weer normaal wees en geen pyn meer hê nie.

Ek moes maar weer aantrek en teruggaan huistoe. Sonder hulp en met baie pyn. Op die onderste vloer het ek vir ma gesê ek wil net gou badkamer toe. Net daar staan Louhanie weer voor my, sy omhels my en bid. Bid sodat ek voel hoe lam ek raak en die trane loop. Ons het nommers uitgeruil en begin kommunikeer. Sy het ‘n gebedsgroep vir my gestig en ek het baie vriendinne so ontmoet.

‘n Jaar later, op 4 November 2015, is ek vir hele maand na my ouers toe. Ons het hulp gesoek by verskeie staatshospitale, een erger as die ander. Uiteindelik kon ek regkom by Kalafong in Johannesburg. Ure en ure se sit en geduldig wees.  Ek het ‘n professor daar gesien en hy het gesê ek is ‘n “ticking timebomb” en hulle moet so gou as moontlik opereer, maar voor dit moes ek eers ‘n kolonoskopie en paar toetse doen. Die kolonoskopie kon ek eers gereël kry vir 15 Februarie 2016, maar dieselfde middag het die professor my gebel en gesê ek moet oor twee dae terugkom want hulle kan nie wag nie.  Louhanie het saam met my gegaan en saam my in die ry gesit en gebid. Later die oggend het ek die kolonoskopie gekry en het baie sleg gevoel daarna,  Op 1 Desember moes ek teruggaan en het chemo ontvang. Die professor het gesê ons moet dit probeer omrede hy glad nie aan my derm kan sny nie. My derm is te gerek en gekoek en die nagevolge is baie erg. Ek het my maar berus daarby om vir die res van my lewe seer en geswel te wees en swanger te lyk.

Louhanie het my op ‘n dag gevra of ek graag na die Lewensverryking Enkelseminaar wil gaan.  Met groot opgewondeheid sê ek toe ja want ek wou vernuwe word en het sielskos nodig gehad.

Sy het toe vir my ‘n borg gereël om op die seminaar te kon gaan.  Ek het op daardie staduim nie geweet hoe ek daar sou kom nie. Die middag voor ek moes ry het ‘n vriend vir my R300 gegee, genoeg vir petrol en die tolhek.  Ek moes gaan, en niks en niemand sou my keer nie!

Ek het by die seminaar aangekom die Vrydag. Was maar huilerig en bang om daar te wees. Ek het maar net deur die “motions” gegaan en saam gesing en na die lesings geluister. Die tweede dag by die seminaar moes ons vergewe.  Daar was twee mense wat ek nie geweet het hoe om te vergewe nie. Ek het toe maar hulle name neergeskryf. Ek moes hulle vergewe en daarna seën, maar ek non nie.  Ek stap toe na Ds Deon en sê ek het die 2 name neergeskryf maar ek kan hulle nie vergewe nie, wat nog van seën.  Hy sê toe ek moes dit net doen en aan die kruis vassteek.  Daarna het ons die Vaderhart van God behandel. Ai ek is so lief vir my pa maar hy het my so teleurgestel en was nooit daar vir my nie. Daardie aand kon ek my pappa vergewe en het hom gevra om my te vergewe. Wat ‘n ervaring! Ek het so verlig gevoel. Baie mense het na my toe gestap en almal wou net met my praat en wou weet wat het gebeur want ek was nie meer so donker nie.

Die aand het ons die sondelyste en vergifnislyste aan die kruis gebrand maar ek het nie in my hart gevoel dat ek daardie 2 persone kon vergewe nie. Ek het heeltyd geloop met die wroeging in my. By die seminaar is so mooi voorbeeld gebruik van hoe onvergifnis soos ‘n nalestring mense aan jou kan vasbind. Ek wou nie die mense elke dag van my lewe saam met my sleep nie en net daar kon ek opstaan en hulle vergewe, en seën! Wat ‘n ongelooflike gevoel…

Ek sprankel, ek huppel en borrel van geluk.  My verwagtinge vir die seminaar was om myself te vind, ek wou weer lag en myself sien soos ander mense my sien.  Ek het dit, en meer, ontvang. Ek het soveel ware vriende gemaak by die seminaar en ek wens daar kan meer mense gaan want dit is absoluut ‘n voorreg en belewenis.

Die Maandag by die seminaar, 21  Maart 2016, het ek ongelooflik seer gehad en was erg geswel en soveel mense by die seminaar het almal vir my gebid. Teen die Woensdag was die pyn nog erg maar almal het steeds vir my gebid. Op Donderdag, 23 Maart 2016, was daar geen pyn meer nie en die swelling in my buik was weg. Daar was absoluut niks.

Ek het ‘n week na die seminaar nuus van my dokter af ontvang dat ek geen kanker meer het nie.

Alle eer aan ons Pappa! Na 40 jaar van woestyn in my lewe, kan ek die mooi en lekker ervaar.  Ek sal U dien tot in EWIGHEID!

Getuienis geskryf deur Leana van Meyeren

Hier is foto’s van hoe Leana se maag geswel was voor die seminaar, en hoe daar nou geen swelling meer is nie.

swelling-voor-na

Volg ons gerus