Pornografie, goggas en lelike goeters

Wanneer ‘n tv-program ‘n ouderdomsbeperking van 18 aandui, beteken dit nie dat ek as volwassene maar met ‘n skoon gewete daarna kan kyk nie…

pornografie

Internet pornografie is in ons moderne tyd ‘n baie reële gevaar in elke huis met rekenaars, selfone en TV. Dis toeganklik, dis gratis, dis opwindend (aanvanklik!) en ons kinders (en hopeloos te veel grootmense!) besef nie dat dit verslawend is nie. Elke ouer wat sy kind ‘n normale geestesgesonde lewe gun, is verantwoordelik daarvoor om sy kinders te beskerm (en elke volwassene wat ‘n geestesgesonde lewe begeer, homself).

Wat rekenaars betref is die beste oplossing om seker te maak pornografiese materiaal is nie toeganklik nie. Safe Eyes (www.safeeyes.com) is die beste program om ongewenste webwerwe te blok. Hierdie program kan van die net afgelaai word en vir omtrent R300 per jaar kan jy 3 rekenaars beskerm. Ons as ouers het ‘n verantwoordelikheid om nie ongewenste toegang tot die internet toe te laat nie. Daar is spesiale afslag vir skole en kerke.

Wat goed is van die sisteem is dat jy dit so kan stel dat dit dadelik ‘n e-pos na ‘n geselekteerde adres sal stuur indien iemand toegang tot ongewenste webwerwe probeer verkry het. Hierdie is ‘n uitstekende afskrikmiddel, want daar word dadelik gerapporteer indien iemand na verkeerde goed probeer kyk. Dit is egter belangrik dat ‘n ouer (verkieslik ma) dit sal installeer (volg net die aanwysings op die webwerf) en gebruik ‘passwords’ wat net jy sal ken. Van die tieners sal soms kla dat hulle nie genoegsaam toegang tot webwerwe kan verkry nie vir navorsing. My ondervinding is dat indien jy die program nie so streng stel nie, jy genoegsame toegang sal hê, maar steeds die ongewenste webwerwe sal blok. Die probleem is dat die webwerwe ‘gelink’ is en dat ongewenste goed soms ongevraagd sal opkom indien jy nie beskerm is nie.

Nog ‘n wenk is om alle rekenaars so op te stel dat almal wat verbyloop of in die kamer inkom, die skerm kan sien. Indien ander nie mag sien waarna jy kyk nie, is iets verkeerd!

Die grootste probleem tans is selfoon pornografie. Om pornografie te blok, skakel by Vodacom *111# en by MTN *101#. Dit is nogal effektief.

Wanneer ‘n tv-program ‘n ouderdomsbeperking van 18 aandui, beteken dit nie dat ek as volwassene maar met ‘n skoon gewete daarna kan kyk nie. Eksplisiete materiaal is sleg vir almal (veral ons manne). Stel jou DSTV op 13 jaar – ‘parental control’ en maak seker ma hou die kode om te ‘un-block’. Daar is ook ‘n ander manier om dit te doen. Tik in Block, dan jou kind se selfoonnommer en SMS na 41333. Dit kos R25 per jaar, en hulle SMS jou jaarliks om die subskripsie te hernu.

In Markus 9:47 staan daar “En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word.” Pluk hom uit! is met ‘n uitroepteken. Vir ons as gelowiges beteken dit ons moet alle ongewenste materiaal wat die internet, TV en selfone bied, uit ons lewens PLUK! Dit beteken nie ek mag nie internet en selfoon gebruik en TV kyk nie, maar maak seker jy tref die nodige voorsorg.

Geskryf deur Danie Honiball

Ander skakels en hulpmiddels:
Aanlyn beskerming teen pornografie: www.covenanteyes.com
Artikels en raad oor pornografie verslawing: www.covenanteyes.com/blog/
Gratis E-boeke oor pornografie verslawing: www.covenanteyes.com/e-books/
Artikel – “Stel pornografie ons huwelik in gevaar?”: www.intiem.co.za/intens/pornografie-gevaar.html

Volg ons gerus