As die vonke spat!

Wat maak mens met woede in ‘n verhouding?  Is ‘n verhouding sonder woede moontlik? 

vonke-spat

Met gesonde interaksie in ‘n verhouding is baie emosies teenwoordig, sommige positief, sommige negatief.  Baie keer spring ‘n reaksie uit wat jy hoegenaamd nie verwag het nie, en jy staan verslae.  Waar kom dit nou vandaan?  Een só ‘n reaksie is woede.  Wat maak mens met woede in ‘n verhouding?  Is ‘n verhouding sonder woede moontlik?  Waarskynlik nie, behalwe as die partye kadawers is.

Dr. James Dobson noem in sy boek Emotions, can you trust them, 4 primêre situasies wat omtrent enige mens in woede kan laat uitbars:

  • Oormoegheid – As jy moeg, opgebruik en honger is
  • Verleentheid – As jy in die openbaar in die verleentheid gestel word, verneder of afgebreek word
  • Frustrasie – wanneer jou planne nie uitwerk nie, ‘n ding nie funksioneer soos hy moet nie, iemand jou dwarsboom
  • Verwerping – Die pyn van nie goed genoeg geag word nie

Woede kan ook ‘n aangeleerde reaksie wees.  ‘n Kind word groot met ‘n pa of ma wie se standaardreaksie op ‘n probleem woede is, en neem aan dat dit is hoe dit moet wees, en so loop die kind die pad van verwoesting wat hy by sy ouers geleer het.

Woede in ‘n verhouding (werk; vriendskap, huwelik) kan vernietigend wees, want dit bring pyn en verwarring.  As dit nie uitgesorteer word nie, bring dit onttrekking en, alhoewel die konflik dan miskien minder is, verarm die verhouding.

Ironies genoeg veroorsaak woede nie net pyn nie, maar is dit dikwels juis die uitvloeisel van pyn.  Dis reaksie op seerkry.  Die wetenskap het vasgestel dat daar ‘n kettingreaksie is wanneer mense kwaad word.  Een of ander “sneller” veroorsaak dat die brein onmiddellik streshormone laat afskei (bv. die byniere skei adrenalien af) wat in die bloedstroom ingepomp word.  Dit laat die hart vinniger klop, jou bloeddruk styg, jy hiperventileer, jou hande word klam en jy beleef ‘n emosie: woede.  Dis egter nie net biologies – chemies nie.  Wat was die sneller?

Die spreekwoord sê “Aanval is die beste verdediging”, en só word woede ‘n mens se verdedigingsmeganisme teen die pyn van vernedering, verwerping en kritiek.  So ook die pyn van teleurstelling, minagting, jaloesie, frustrasie, verraad en eensaamheid, ens.

Persone wat kronies woedend word, wantrou dikwels ‘n ander se bedoelings.  Hulle lees goed in dit wat mense sê of doen wat glad nie so is nie.   Hul pyn het waarskynlik iets te make met ‘n gebrek aan vertroue of sekuriteit.

Hoe hanteer ek my woede?

Sê vir jouself: “STOP, jy is nie nou gereed om die situasie te hanteer nie.”

Jy moet op daardie stadium niks doen nie, moenie iets sê nie.  Dit vra ysere selfbeheersing, woede is ‘n sterk emosie.  Jy het waarskynlik nog nie die oorsaak van jou woede geïdentifiseer nie.  Dis eers as jy weet wat die bron van jou woede is dat jy dit kan hanteer, soos met ‘n siekte wat eers behandel kan word as dit gediagnoseer is.

Om jou woede te kan hanteer, moet jy afstand kry, jouself los maak van die woede.

As jy vir iemand kwaad is, vra jouself af of pyn die oorsaak was.  Visualiseer jou woede as ‘n tou wat jou aan die ander persoon vasbind.  Sny die tou los van die ander (jy wil die oorsaak van die woede by jouself soek). Volg nou die tou na die bron van die pyn.  Wat was dit wat jou só seer gemaak het dat jy kwaad geword het of agter woede gaan skuil het.  Volg die tou, dit lei na die oorsprong van die pyn.  Is jy seergemaak deur verwerping, verraad, ‘n opmerking wat seergemaak het omdat jy nie gerespekteer is nie, is jy aangeval?  Wat was dit, volg die pyn.  Soek woorde om jou pyn mee te beskryf, bv. “Jou opmerking het my onnosel laat voel en dit het seer gemaak omdat my eiewaarde aangetas is”;  “Ek het beleef jy beskuldig my van iets wat ek nie gedoen het nie en dit het seer gemaak omdat ek veronreg voel”.  Praat van jou pyn, nie die woede nie.  Jy kan dan vir die ander persoon sê: “Jy wou my waarskynlik nie seermaak toe jy gesê het … (wat dit ook al was) nie, maar dit het seergemaak / ek het seer gekry.

Ek het vroeër gesê die wetenskap het vasgestel een of ander sneller veroorsaak die vrystelling van streshormone.  Die bron van die pyn is die sneller.  As jy weet wat dit is, help dit jou om STOP te roep.

Hoe hanteer jy ‘n ander se woede?

Wanneer iemand anders met woede reageer, weet onmiddellik, dieselfde reël geld: daar’s iewers pyn, en moet dan nie reageer nie.  Hoe doen jy dit?

Kry afstand.  Net ‘n oomblik van stilte laat die storm ‘n bietjie bedaar.  Moenie reageer omdat jy aangeval word nie.  Na ‘n skietgebed om kalmte, sê gewoon vir die persoon: “Ek het gelees dat woede pyn beteken.  Dat as ‘n persoon kwaad word (woede), dit beteken dat hy pyn beleef.  Ek wil graag van jou pyn weet.  Ek wil van jou pyn weet, want ek wil nie hê ons moet verder seerkry nie.”

Daar mag ‘n uiteenlopende reaksies hierop wees: Sarkasme, verwerping, ontkenning, ens.  Druk nogtans deur.  Sê: “Ek het geleer dat woede kan kom van eensaamheid; vrees; frustrasie; skuldgevoelens; jaloesie; onmag, ens.  Met woede probeer ons ons pyn wegsteek.  Ek wil nie hê jy moet seerkry en pyn beleef nie, daarom moet ek weet wat jou pyn veroorsaak sodat ek dit nie weer sal ontlok nie.  Ek wil hê jy moet my vertel sodat ons iets daaromtrent kan doen.  Ek wil dit doen omdat ek vir jou lief is.  Vertel asseblief vir my.”

Dit mag gebeur dat die ander jou vertel, met net nog meer woede.  Ten minste onderdruk hy nie sy woede sodat dit aggressie word en later tienvoudig ontplof nie.  Luister na die klank van die woede: die woorde, die stemtoon, ens.  Moenie dat dit jou afsit of jou self kwaad laat reageer nie.  Hoor dit as die tekens van seerkry en soek die pyn.  Dít is die sleutel.

Eintlik is woede ‘n geskenk.  Dit gee jou die geleentheid om die ander se pyn te leer ken en so nader aan hom te kom.  Dis jou onderwyser.  Dit leer jou om te luister, te verstaan en meer empatie te hê.  As ons die pyn ‘n naam kan gee, sal ons beter in staat wees om  die oorsaak van die pyn aan te spreek en as ons dit kan regkry, sal, byna bonatuurlik, die woede bedaar.

Woede is ‘n emosie is wat ons almal beleef.  Moenie jou woede ontken nie.  Moenie die ander persoon se woede gering ag nie.  Laat ruimte vir die intensiteit van die emosie, maar moenie self kwaad word nie!  Identifiseer die bron van jou eie woede, help die ander persoon om dieselfde te doen, en maak werk daarvan. Dit beteken in die eerste plek vergiffenis van een of ander aard !!

Geskryf deur Sors Geldenhuys

Volg ons gerus