Waarvoor sê jy “ja”?

So julle wil mekaar die ja-woord gee, maar is julle volkome bewus waarvoor julle “ja” sê?

waarvoor-se-ja

Die huwelik is ‘n wonderlike vorm van eenheid om van deel te wees, maar dit het ook unieke uitdagings. Daarom is dit belangrik om reeds voor julle trou, julle van die moontlike uitdagings te vergewis en met mekaar eerlik te wees oor hoe julle dit gaan hanteer.

Idees oor hoe betrokke die familie in die huwelik gaan wees en hoeveel kinders julle wil hê is dalk nie nou vir julle so belangrik nie, maar daar gaan ‘n tyd kom wat dit ‘n baie groot rol gaan speel in julle lewe en huweliksgeluk.

Weet jou verloofde van die seerkry uit jou verlede wat dalk ‘n invloed op julle huwelik kan hê? Is julle volkome bewus van mekaar se toekomsplanne en bereid om mekaar daarin te ondersteun? Hoe gaan julle dit hanteer as die oogklappe van verliefdheid afgeval het en daar konflik opduik? En baie belangrik – watter rol gaan geloof in julle lewe speel en in watter geloofsgemeenskap wil julle dit uitleef?

Hier is ‘n paar spesifieke goed wat paartjies moet leer/bepaal vóór die troudag:

  1. Is julle fondasie vir die huwelik reg? Waarop word julle verhouding gebou? ‘n Suksesvolle huwelik se hoeksteen is Jesus Christus.
  2. Hoe verskil julle emosionele en seksuele behoeftes? Hy hou van dinge só en sy hou daarvan só, maar daar moet ‘n middeweg wees. Verstaan hoekom julle verskillende voorkeure het en hoe om dit te hanteer.
  3. Kommunikeer julle effektief en kan julle konflik reg hanteer? Onthou die krag van jou woorde. Woorde kan seermaak en woorde kan heelmaak. Ou koeie moenie uit die sloot gegrawe word nie.
  4. Kan julle mekaar vergewe? Vergifnis in ‘n huwelik is uiters belangrik! Dit bepaal of jou huwelik gesond en sterk is, of stadig maar seker besig is om dood te gaan.
  5. Is jou maat en jou huwelik ‘n prioriteit in jou lewe? Jou doelwitte, drome en besluite moet jou maat in ag neem en julle moet met mekaar daaroor kan praat.
  6. Seën julle mekaar? Leer hoe om julle huwelik en mekaar te seën soos God julle ook wil seën.
  7. Wat is die verskil tussen ‘n kontrakhuwelik en ‘n verbondshuwelik? In ‘n verbondshuwelik gee jy sonder om terug te ontvang. Moeilike tye is geleenthede vir huweliksgroei, eerder as ‘n uitweg om die kontrak te verbreek.
  8. Wat is die impak van gebed en stiltetyd op ‘n huwelik? Jy sal verbaas wees hoe gebed en stiltetyd saam met jou maat jou huwelik op ‘n wonderlike manier kan versterk en julle liefdesverhouding kan verdiep.

 

Dit is wys om vir voorhuwelikse berading te gaan om julle voor te berei op die realiteit van die huwelik en om julle verwagtinge te bespreek, sowel as om die dinamiek van wat ’n huweliksverhouding behels, te begryp. Jy sal nie spyt wees nie.

KLIEK HIER vir meer inligting oor ons Huweliksvoorbereiding naweke

 

Volg ons gerus