Wat geld nie kan koop nie

Geen geld in die wêreld kan wonderwerke koop wat deur God gegee is nie.

geld-nie-koop
Ons hier by Lewensverryking Seminare het onlangs die voorreg gehad om saam met twee afsonderlike groepe ’n ervaring te deel wat so spesiaal en kosbaar is dat ʼn soortgelyke ervaring met geen geld ter wêreld gekoop kan word nie. Daarby sal al die energiedrankies in die winkels se yskaste nie nastenby die hoeveelheid energie kan bied as wat tydens hierdie spesiale oomblikke losgemaak is nie. Ons is sowaar oorweldig en bederf deur alles wat ons beleef het.

In een van die gevalle het ʼn moedelose enkelouer, te danke aan God se goedheid, daarin geslaag om mense wat haar in die verlede seergemaak het, te vergewe. Die Here het haar dus die nodige insig gegee deur haar denke te vernuwe. Haar hele voorkoms is sommer ook verhelder en vernuwe en sy het skielik van oor-tot-oor geglimlag.

Later, met haar aankoms by die huis, het haar seun haar een kyk gegee en gevra waar sy was en wat met haar gebeur het omdat sy so “anders” lyk. Sy het hom vertel dat sy haar hele lewe aan Jesus oorgegee het en dat Hy nou in beheer van haar lewe is. Die seun het hierna sy ma gevra om hom ook te help om Jesus in sy lewe in te nooi – iets wat sy later ook kon regkry.

In ʼn ander geval is ’n jong man deur ’n familievriend aanbeveel om die seminaar vir enkellopendes by te woon. Die familievriend het gemeen die seun sal by so ʼn seminaar baat vind en dat dit hom weer op die regte pad sal bring. Hy het tydens die seminaar erken dat sy lewe op die afdraende pad was en dat hy graag vergewe sal wil word vir al die verkeerde dinge wat hy al aangevang het.

Tydens die seminaar kon die seun geloofsekerheid kry en kon hy daarin slaag om homself én ander te vergewe. Dit het later ook uitgekom dat die seun aan dwelms verslaaf was en dat hy, sedert die seminaar, sterk genoeg was om homself van sy verslawing te bevry. Weer eens het dit nie maar sommer gebeur dat ʼn jongman se lewe handomkeer verander het nie – God doen sy belofte aan ons gestand en Hy het die seun van sy verslawing genees. Sy ouers kan nie uitgepraat raak oor die reuseverandering wat hul seun ondergaan het nie. Alle eer aan God!

Ons kan ook van verskeie ander voorvalle getuig waar gewone mense soos ek en jy deur middel van God se genade en liefde weer hoop gevind het in ʼn andersins omgekeerde wêreld. Daar is ook gevalle waar mense wonderbaarlik van siektetoestande genees is. Ander is weer die krag en wysheid gegee om diegene wat hulle leed aangedoen het, te vergewe.

Ons het dus net weer gesien dat geleenthede soos Lewensverryking Seminare ’n instrument is wat vir individue die geleentheid gee om in ʼn geestelike milieu kontak met die Heilige Gees te maak om sodoende deur Jesus Christus bevry, vernuwe en verryk te word. Geen geld in die wêreld kan hierdie wonderwerke koop nie. Geen energiedrankie kan mense soveel lewenslus en lewensvreugde gee soos dié wat die Here daagliks aan ons gee nie.

Geskryf deur Inge Strydom

Volg ons gerus