Vrouwees…

As iemand die woord “vrouwees” noem dan dink ek dadelik aan Spreuke 31. ‘n Formidabele vrou word beskryf vanaf vers 10 tot vers 31. Ek kan nie anders as om te reflekteer oor watse vrou ek is, of graag wil wees nie. Daar kom soveel goeie voorbeelde in my gedagtes op:

Ek is omring met formidabele vroue;

  • Ek wil so liefdevol wees soos my Ma, my beste vriendin, my steunpilaar…die een wat sonder twyfel altyd daar is vir my en my onvoorwaardlik lief het.
  • Ek wil so vreesloos wees soos my Ouma, wat elke dag voluit geleef het en oor min bekommerd was, want “vertrou op die Here, my kind, Hy sorg vir alles”.  
  • Ek wil so versorgend wees soos my Ma se oudste sussie, wat klein goedjies sal doen om jou geliefd te laat voel. Soos byvoorbeeld om ‘n foto van my en my Oupa op sy 80ste verjaardag te raam,  met ‘n handgeskrewe briefie wat die mooi herhinnering, van ons twee saam, sorgvuldig verduidelik.
  • Ek wil so nederig wees soos my Ma se jongste sussie. Sy ken nie die woord selfsug nie en is altyd bereid om te help en te deel, sonder om enige iets terug te verwag. 
  • Ek wil so stylvol, netjies en versorgd wees soos ‘n kosbare vriendin. Soos die idoom sê, “jy kan haar deur ‘n ring trek”. Dit laat my ook altyd aan self-vertroue dink en hoe dit outomaties kom as jy mooi, stylvol en versorg voel.
  • Ek wil so spontaan wees soos ‘n vriendin wat elke dag stukkies van haar hart met almal om haar deel. Wat met liefde ‘n inspirerende en opwekkende boodskappie uitstuur en almal se dag ophelder. Sy is die een in wie se teenwoordigheid jy altyd ‘n glimlag op jou gesig kan voel.
  • Ek wil soveel omgee soos ‘n vriendin wat vir my sewe geskenkies, elk met sy eie spesiale briefie, gee vir die week van my verjaardag.
  • Ek wil so geduldig wees soos ‘n werks kollega, wat met sorg, die leerlinge lei om uit hul foute te leer.

Om hierdie eienskappe van die vroue om my so te lys laat my net weer besef hoe geseënd ek is om soveel wonderlike, kosbare en sterk vrouens in my lewe te hê.  Ek is vol dankbaarheid dat ek elke dag van hierdie vroue kan leer.

Mag jy tydens hierdie vrouemaand net weereens besef hoeveel wonderlike vroue deel vorm van jou lewe. Gryp elke geleentheid om van hulle te leer met albei hande aan, koester die kosbare, spesiale tye saam en raam dit met sorg as goeie herinneringe.

Geseënde vrouedag!
Uit die pen van Elizbe Gildenhuis 

Volg ons gerus