Ware onderlinge liefde

Daardie laaste aand voor Jesus se kruisiging was werklik ‘n baie diep aand. Dit was die aand waartydens Hy vir oulaas saam met die dissipels was in die bo-vertek. Daardie aand het Hy hulle voete gewas, die nagmaal ingestel, Sy verraaier aangewys, belangrike laaste lering gegee, en uiteindelik saam met hulle vertrek na die Olyfberg waar Hy later gevange geneem is.

Daar in die bo-vertrek – na die voetewas en nadat Judas uit is – gee Jesus hierdie geweldige opdrag: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh 13:34). Die ware omvang van hierdie opdrag is selfs groter as wat ‘n mens met die eerste lees mag besef. Trouens, ‘n bietjie later die aand maak Jesus die ware gewig van hierdie opdrag oop toe Hy die volgende twee sinne enkele verse uitmekaar sê: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly” (Joh 15:9) en dan “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” (Joh 15:12).

Stadig dring dit tot ‘n mens deur wat die Meester eintlik hier vir ons sê. Soos wat die Vader Jesus liefhet, so het Jesus ons lief, en so moet ons mekaar liefhê! Dit beteken dat dieselfde liefde as wat daar tussen God Drie-enig is, moet daar dan ook tussen ons onderling wees!! Praat nou van ‘n tall order!

Maar dit is presies waaroor dit gaan. Gemaak na God se beeld, as Sy verteenwoordigers, is ons bedoel om ons wese in Hom te vind – om uit, deur en tot Hom te leef (Gen 1:26,27; Rom 11:36). En soos wat God se Gees in ons die wedergeboorte bewerk en Hy in ons kom woon, bring Hy daardie liefde tot hier reg binne ons.

Die volgende tree is nou om te kies om mekaar dan so lief te hê. In Filippense 2:1-11 word ons juis hiertoe uitgedaag! Aangesien ons gemotiveer word deur dit wat Jesus vir ons gedoen het, aangesien ons ware sekerheid het van God se liefde vir ons, aangesien die Heilige Gees met ons is, en aangesien daardie besondere omgee en ontferming ons eie is – alles God-grootte faktore – word ons nou dan geroep tot onderlinge eenheid en tot daardie selfde liefde! Om gevolglik nie dinge uit selfsug en vir eie eer te doen nie, maar om jou (as my broer en suster in die Here) hoër te ag as myself.

En dan volg die diepere motivering: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.” (Fil 2:5) Hy, wat nie vasgeklou het aan daardie absolute heerlike plek langs die Vader nie, maar bereid was om mens te word en in ons plek enersyds volmaak te leef en andersyds ons sonde op Homself te neem en daarmee kruis toe te gaan.

As Hy dan bereid was om so groot en totaal lief te hê, en ons moet mekaar ook so liefhê, dan besef jy mos nou dat ons nie die ding heeltemal so ernstig opvat nie. En dit is nogals erg nodig, want jy sien, terug by daardie aand se gesels sien ons dat Jesus ook gesê het: “As julle mekaar (so) liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh 13:35)

Die uitdaging is nie om soos die wêreld om ons te wees en hulle te troef met haat, weerwraak, kwaadpraat en someer nie – enigeen kan dit doen. Die verskil kom egter wanneer hierdie gebroke wêreld om ons bewus word van hierdie besondere en opregte onderlinge liefde wat ons vir mekaar het, dieselfde liefde as wat die Verlosser vir ons het wat Hy gewys het met Sy totale gee, dieselfde liefde as wat die hemelse Vader vir die Seun het!

Geskryf deur Gideon Strauss