Besembos-kind

Hier waar ons vandag is Here, lewe ons so koes-koes onder die besembosse deur…nes Elia. Ons weghardloop, wegkruip oomblike lyk net so klein bietjie anders as die besembos van die Bybel.

Ons vlug vandag onder ons besembos in, terwyl ons stil-stil ‘n masker dra en hoop alles gaan sommer net weg. Ons vlug onder ons Besembos in wanneer ons hart se mense ‘n lêplekkie in die hospital kry, en ons nie daar naby mag gaan nie. Ons vlug onder ons besembos in wanneer ons werk sy deure toemaak, en ons wonder waar ons geld gaan kry om deur môre te kom. Ons vlug onder ons besembos in, wanneer ons ons jongste op die skool se sypaadjie agterlaat. Klein en alleen, net met ‘n masker en ‘n voetspoortjie wat hom wys waar hy moet staan. Ons vlug onder ons besembos in, wanneer die virus sy kloue in ons huwelik inslaan, wanneer ons baklei sommer net omdat ons almal bang en onseker is. Ons vlug onder ons besembos in, wanneer ons hartstmense daar ver verlang. Ja Here, Ons vlug na ons besembosse toe wanneer ons magteloos staan teen elke plaasaanval, elke stukkie geweld in hierdie land.

Ons besembosse lyk dalk ‘n klein bietjie anders as die Bybel se besembosse. Daardie besembos het blare en takke gehad. Ons vlug na die veiligheid van ons eie hart, daar waar niemand ons kan sien en seermaak nie. Ons raak stil, raak sommer net weg sonder dat iemand dit agterkom. Ons besembosse lyk dalk ‘n klein bietjie anders as die Bybel sin, maar dit pla U nie, want U is steeds dieselfde God.

U weet van die plek waar ons wegkruip vir die wêreld. U stap nooit veby ‘n besembos nie, nee Here as een van u kinders verward en stukkend onder ‘n besembos gaan lê is U die een wat stil versigtig die takke wegskuif, U hand versigtig op ons skouer lê eb stil vir ons sê: ”Kom, eet iets., anders gaan die pad vir jou te lank word.”
Wanneer U ons versorg het vir ‘n rukkie lank, lank by ons gesit het om seker te maak dat ons genoeg krag het vir die pad wat voor ons lê. Stap U stil saam met ons verder en iewers,

En iewers êrens op hierdie woestynpad, Here, is dit U wat sag vir ons vra: “Wat maak jy hier? En dan borrel dit so deurmekaar soos Elia se woorde daar in die besembos-woestyn. Dan vertel ons vir U van die stukkend, dat ons kind doodgegaan het, van die onsekerheid, en angs oor ons werk wat toemaak, van ons bekommerd wees oor die finansies, die kinders, die skool. Van ons hartseer oor ‘n geliefde wat in ICU lê. Dan vertel ons vir U van die verlang na ons hart se mense. Van ons wakker lê elke nag. Wanneer ons klaar vir U vertel het, Here, is dit U wat stil langs ons sit en ons rustig maak. Vir ons weer en weer wys dat U groter is as die bos en die woestyn in ons lewe.

Wanneer ons klaar vir u vertel het, is dit U wat stil weer vir ons die pad wys wat ons moet verder loop, nes destyds vir Elia.

Dankie dat U nie skrik vir ons besembosse nie, Here.
Dankie dat U nooit ‘n besembos mis of sommer net ongeërg verbyloop nie.
Dankie dat U kinders se besembosse vir U saakmaak.
So baie saakmaak dat U nie omgee hoe lank U by ‘n besembos moet stilstaan nie.
Solank die een wat onder die bos lê, net weet dat U daar is en dat U nie gaan weggaan nie.
Nooit gaan weggaan nie.
Dis vir U belangrik, Here.
Dankie dat U geduldig is, ook met my, U besembos-kind.

1 Kon. 19

– Christelle Hattingh, oorspronklike plasing hier.