Rampe en teëspoed

Wat moet ons van dit alles leer? Is God besig om vir ons iets te sê?

rampe

Eers die Tsunami, toe Orkaan Katrina verlede jaar, en vanjaar internasionaal tot nou toe alreeds weer 16 nuwe rampe, waaronder vloede en grondverskuiwings in Indonesië; aardbewings in Afghanistan; woeste sneeustorms in Kirgistan, pas weer die aardbewing in Indonesië met byna 5000 mense alreeds dood. In Suid-Afrika het ons ons eie krisisse: oorstromings en verspoelings na van die swaarste reën in baie jare, korrupsie, stakings soos in die tagtigerjare laaste, verkragtings, misdaad teen kinders. Die lys hou aan en aan.

Wat moet ons van dit alles leer? Is God besig om vir ons iets te sê? Ék dink so, en ek dink ons beter luister. Hier is dalk ‘n paar geestelike lesse wat ons miskyk.

1. DIE AARD VAN BESITTINGS IS TYDELIK.
Het jy al gehóór wat mense wat ‘n ramp oorleef het, sê? Nie een van hulle is gepla met sy plasmaskerm TV of sy 4×4 wat onder die water is nie. Niemand het in die straat gehardloop en geskree “My koordlose boor is in sy maai in!” of “My nuwe stel gholfstokke het weggespoel!” nie.

Wanneer hulle gerou het, wat dit oor mense wat weg is. as hulle uitbundig bly was, was dit oor ‘n mens wat toe nie weg is nie…

Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie (Lukas 12:15). Ons het op TV gesien hoe ‘n skip strand en mense verdrink. Ons het motors van by ‘n miljoen rand gesien wat noot weer sou ry nie, toe onder slik of rommel. En in die agtergrond hoor ons Jesus sê Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor… ‘n orkaan, ‘n wolkbreuk, ‘n aardbewing, ‘n damwal wat breek het ‘n manier om ons vingers los te skeur van die goeters wat ons regeer. Dit wat eers vir ons kosbaar was, beteken skielik niks. Wat vantevore vir ons onbelangrik was, het dan ewige betekenis.

‘n Vriend woon ‘n tyd terug een Sondagaand ‘n erediens by in so ‘n rampgeteisterde gebied. Van die slagoffers is daar met slegs dit wat hulle aan gehad het meestal in die voorste rye. Op hulle gesigte is die tekens van lyding en swaarkry, maar toe die lofprysing begin, is hulle op hulle voete en sing hulle met trane wat oor hul gesigte loop. Hulle is ryk!

Wat van jou? As al jou goed in ‘n oomblik weggevat word, sal jy nog aanbiddingsliedere kan sing? Indien nie, hou jy dalk die verkeerde goed te styf vas? Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie. Hulle moet eerder hulle lewe bou deur op God te vertrou. ” (1 Tim. 6: 17 – 19, Die Boodskap). Deur al die rampe wat gebeur sê die Here: “Goeters is nie belangrik nie, mense is. Verstaan die aard van besittings, dis tydelik. Verstaan ook

2. DIE AARD VAN DIE MENS: SONDAAR OF VERLOSTE (HEILIGE)
Elkeen van ons kan die ongelooflikste verhale van opoffering (klem op offer) en selfverloëning vertel. Ons sien foto’s van mense wat hulle bure red of reddings werkers wat hulle lewens waag vir Christene wat hulle nog nooit gesien het nie! My vriend het met ‘n kind gepraat wat deur ‘n helikopter opgepik is. Sy sal nooit weer die helper in die helikopter sien nie. Die reddingswerker soek verseker nie applous nie. Hy het net haar lewe gered, alles deel van sy daaglikse werk.

Plunder, steel, baklei. Ons het almal persoonlike ondervinding daarvan. Ons het almal stories van moord, roof en verkragting gehoor, gelees en beleef. Die Psalmis sê: Die hemel getuig van die mag van God, maar die strate van hierdie sondige aarde getuig van die gebrokenheid van die mens. Die onderskrifte by sommige tonele was ontstellend. Stel jou voor jy kan, in ‘n plek wat veronderstel is om jou skuiling teen die ramp te wees, nie slaap nie, in die vrees dat iemand jou kind sal verkrag as sy a.g.v. ‘n nood kleedkamers toe moet gaan nie!!

Ons is mense tegelyk met waardigheid en ‘n verlies daaraan. Die rampe het meer as ons huise se dakke afgewaai; dit het die masker van die sg. beskaafdheid ook afgeruk. Die probleem is nie moeder natuur nie, maar die sondige menslike natuur. Neem die beskerming deur die polisie weg, stoot die heinings plat en die ware self kom na vore: barbaars tot in die kern.

Ons is gebore met hierdie Ek-eerste mentaliteit. Jy hoef nie jou kinders te leer om te baklei nie, dis nie nodig om klas te loop om voete te stamp en te skree nie, dis deel van hulle natuur. Inderdaad is ons almal so gebore. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop (Jes. 53:6) God het ‘n aaklige vyfletterwoord vir ons gevalle toestand gekies: S-O-N-D-E. Sonde is altyd selfgesentreerd. Daar’s ‘n sprekende Engelse uitdrukking wat sê: We’ve got an optical problem; the big I .

Ons is deur ons sondige begeertes oorheers het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het (Ef. 2:3).

Jy hoef nie na ‘n rampgebied te gaan om die chaos te sien nie. A.g.v. sonde ignoreer ‘n man sy vrou; volwasse mans verlei jong meisies of oorweldig hulle sommer; die jonges flankeer met die oueres. As jy doen wat jy wil en ek doen wat ek lus het, val die beskawing uitmekaar.

En as die orkane, aardbewings of wolkbreuke van die lewe losbars, kom ons ware natuur na vore, ons diepste behoeftes word blootgestel: ‘n nood, groter as kos, meer permanent as enige norm of waarde. Ons het nie ‘n nuwe sisteem (orde) nodig nie, maar ‘n nuwe natuur. Ons moet binneste buite verander, dit beteken

3. DIE AARD VAN GOD SE GENADE: BINNESTE BUITE
Baie mense praat oor noodhulp. Hoe herstel en herbou ons huise, mure, geboue? Hoe lank sal dit vat? Wie sal betaal? Die geld val in diep gate, maar een ding is seker, iemand moet opruim. Niemand stel enigiets anders voor nie. Almal weet opruim en herbou is nodig.

Dit is wat God met ons doen. Hy kom in ons sonde-oorstroomde lewens en was die oue weg. Paulus praat oor sy eie herstel. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5). Teen die lewende water van God se genade het die sonde geen weerstand nie. En ons kan maar net droom van opruim van rampgebiede, maar God doen dit met mens na mens, en Hy sal dit met jou doen as jy Hom toelaat.

Wat mens van die rampsituasies die meeste ontstel, is mense wat geweier het om hulp te aanvaar. Dié wat hulle laaste ure vasgekeer in ‘n solder of op ‘n dak vasgeklou het aan wat hulle het, en uiteindelik hul keuse berou het. Hulle kon uit hulle penarie gered gewees het, maar hulle het gekies om te bly, en het so ‘n permanente prys betaal.

Jy hoef nie. Wat reddingswerkers waar ook al gedoen het, sal God vir jou doen. Hy het dan jou wêreld binnegekom, sy reddingstou laat sak in jou sonde-oorstroomde lewe. Hy sal jou uithaal, jy moet net doen wat die dogtertjie gedoen het, laat Hy jou uittel.

Die dominee se preek met my vriend besoek aan hulle kerk was Gen. 6:8 Maar Noag is deur die Here begenadig. Die prediker het gewys op al die dinge wat Noag a.g.v. die vloed nie kon kry nie. Sy omgewing, sy huis en die gemak van die sagte stoele. Sy bure af in die straat… Daar is so baie wat hy nie kon kry nie. Maar dit wat hy kon kry, het al die verskil gemaak: genade in die oë van die Here.

As jy alles het en geen genade van God nie, dan het jy niks! As al wat jy het sy genade is, dan het jy alles.

Wat het die dogtertjie wat gered is, gedoen? Toe die reddingswerker verskyn, het sy hom vasgegryp, haar oë toegemaak en net vasgehou. Dis al wat jy moet doen. As jy nog nooit het nie, wil jy nie nou Jesus se hand vat nie? Jy hoef nie eers verder vas te hou nie, Hy sal (Joh. 10:27, 28; Rom. 8:38. 39).

Hy leef, Hy’t opgestaan en hier waar ek skryf op Hemelvaartdag het Hy sy oorwinnaarsposisie ingeneem vir altyd. Hy het dalk rampe en oorloë en wat nog gebruik om jou aandag te kry. Vertrou Hom terwyl jy nog kan, asseblief.

Geskryf deur Sors Geldenhuys