Heilige Gees

Geskryf deur Pieter Badenhorst

God is Skepper – in Engels: Creator Skep en Create sê Hy is die meester Kunstenaar-Skepper van die heelal. Gaan staan net voor die spieël, dan sien jy ‘n eenmalige uitsonderlike kunswerk uit Sy hart uitgedroom. Wanneer God kommunikeer deur Sy Woord en deur die skepping om ons, dan doen Hy dit kreatief met stories en simbole en prentjies wat ons gedagtes vasgryp en maak dat ons beter onthou.

Ons is pas verby Pinkstertyd wat ons herinner aan die Heilige Gees – God alomteenwoordig, God in ons, om ons, oral, altyd.

God wat ons nie kan sien nie, maar kan ervaaren hoor, maar ook kan mis en ignoreer…

As God in die Bybel skryf oor die Heilige Gees, dan gebruik Hy simbole en beskrywende woorde.

Hier volg ‘n paar:

  1.    Wind:

“En daar kom skielik ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.” – Handelinge 2:2

“Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” – Johannes 3:8

  1.   Water:

“Wie in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy van die Gees gesê wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” – Johannes 7:38-39

  1.   Vuur:

“En aan hulle is tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel het, en op elkeen van hulle gaan sit het.” – Handelinge 2:3

“Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek — ek is nie werd om sy skoene te dra nie — Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” – Matteus 3:11

  1.   Duif:

“Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom.” – Matteus 3:16

As jy weer die wind deur die blare sien waai, water oor jou hande voel spoel, jy langs ‘n vuur sit wat knetter of ‘n duif sien vlieg, mag dit vir jou heilige oomblikke word waar jy bewus word van God, Heilige by jou. Luister fyn en gesels met Hom.